Saturday 6 April 2013


Uit Pas Uit

Hier is als nie pluis nie. Die ekonomie laat my dink aan 'n boer wat 'n pragtige trop beeste het maar nie 'n sprietjie gras nie. Die indekse styg, maar grondstowwe wat die stof is waarmee goedere gemaak word, styg nie saam nie.

Die DOW (+11.1%) en die FTSE (+5.97%) het hierdie jaar gaaf weggespring. Die JSE hou egter nie meer by nie en het tot dusver -1.91% afgestaan. Waar die DOW en FTSE nou besig is om by hul hoogtepunte van 2007 verby te steek, het die JSE al in Maart 2012 by sy voorkrises hoogtepunt van 33,401 verbygegaan. Hier is my lyngrafiek van die DOW se daaglikse sluitingspryse.


En die JSE Alsi oor dieselfde tydperk:


Grondstofpryse styg nie saam nie

Grondstof prysveranderinge sedert Januarie 2013:

     Aluminium :     -9.29%
     Koper          :    - 6.60%
     Lood            :   -11.41%
     Niekel         :   - 7.19 %
     Sink             :   - 9.46%
     Staal            :   -37.50%
     Steenkool     :     -8.41%
     Ystererts       :     -2.51%
      Brent Olie    :    -5.36%

En sedert die begin van 2012 is die pryse óf dieselfde, óf laer.



My Maandelikse grafiek vir koper wys dat daar kans vir verdere dalings is:


Koper daal 25% sedert 1 Augustus 2011.

Grondstofaandele styg nie saam met die JSE Indeks nie

Die JSE se grondstofaandele indeks lyk ook gereed vir verdere dalings.


 Die hulpbronindeks daal 11% sedert 1 Augustus 2011.

Finansiële aandele styg saam met die JSE Indeks

Hier is die indeks vir 15 van die JSE se finansiële aandele.


Hierdie indeks het al 24% hoër gestyg as die hoogtepunt van 2008.

Finansiële dienste is die dryfkrag agter die JSE stygings.

Die Dollar

Die dollar en al die kwantitatiewe verslappingsprogramme is van belang omdat 'n sterk dollar negatief kan wees vir grondstofpryse. Hierdie grafiek wys die dollar sedert Augustus 2011 in 'n stygende kanaal beweeg.


Die koper en hulpbronindeks toon in dieselfde tyd 'n dalende en sywaartse beweging. Dis makliker om die verband tussen die dollar en grondstowwe op die maandelikse grafieke te sien. Die dollar styg 11% sedert 1 Augustus 2011.


Toekoms

Die ekonomie is uit pas uit want die finansiële deel dryf alleen die stygings. Nou gaan die Japanese Sentrale Bank ook inklim met kwantitatiewe verslapping wat Japan se monetêre basis met tot 10% van hul BBP kan vergroot. Amerika kom net by 6.8% van hul BBP. (Dis volgens John Dobosz op forbes.com.)

Hoe lank kan dit in 'n  ekonomie wat nie op kos en goedere produksie gebou is nie goed gaan?


Sunday 17 March 2013

 17 Maart 2013

'n Stilswyende of Ooglopende Heffing

Saterdag se ooreenkoms tussen Cyprus se regering en die Troika (die driemanskap wat bestaan uit die Europese Kommissie, die Internasionale Monetêre Fonds en die Europese Sentrale Bank) kom daarop neer dat 'n hulppakket van €10 biljoen aan Cyprus toegestaan sal word indien 10% van die deposito's in Cyprus se banke begedra word vir skuldverligting. En so sal die ineenstorting van Cyprus se banke voorkom word.

Ek dink dit gee 'n splinternuwe betekenis aan bankdienste en die Europese Sentrale Bank se onderneming om die euro te red teen elke prys. Die versekering wat aangebied word dat dieselfde nie ook in ander Europese lande (Spanje, Italië, Portugal, ens.) sal gebeur nie, is 'n 'belofte' van die Europese Unie se amptenary.

Instruksies wat gevolg kan word om die waarde van sommige beloftes te bepaal:
  • Tel 'n klip op en hou dit styf in jou een hand.
  •  Luister na 'n blofte en hou dit styf in jou ander hand vas.
  • Draai 'n paar keer in die rondte, of verwyl 'n bietjie tyd.
  • Maak jou hande oop en kyk wat het jy.

Geld word slegs deur 'vertroue' in die uitreiker daarvan ondersteun sedert van die goudstandaard afgestap is. Dus is ons almal wat rande, ponde, dollar, ens gebruik uitgelewer aan die integriteit van die regerings wat die geld uitreik.

Goud verskil van geld in die opsig dat dit nie deur 'n regering uitgereik word nie en dat dit nie gebruik kan word om brood en melk te koop sonder om dit te om te ruil vir geld nie. Vergelyking van die prys van goud in dollar, yen, rand, ens is insiggewend.

Sedert 2008 is Amerika, Britanje, Japan, die EU en ander lande met oorgawe besig om hul hoeveelheid geld te vermeerder deur bateaankope te doen wat die noemnaam kwantitatiewe verslapping dra. In Augustus 2008 was die prys van goud $825 en Vrydag, $1592, 'n styging van 92% in dollar terme. Die hoeveelheid beskikbare goud het nie dramaties verminder nie, maar die hoeveelheid beskikbare dollars is 'n ander saak.

Hier's 'n grafiek waarin ek die persentasie verandering in die randprys van goud, die dollarprys van goud en die prys van dollars in rand saamgesit het. Die begin datum is 1 Agustus 2011 omdat dit die tyd is toe Amerika se kredietwaardigheid afgegradeer is en omdat die dollarprys van goud in September 2011 'n hoogtepunt bereik het. Sedert het die randprys van goud met 34% vermeerder en die dollarprys van goud met 3% verminder. Die groen lyn is die randprys vir die dollar en hoe hoër die lyn styg hoe minder dollar kry mens vir 'n rand.



Hier is 'n grafiek van die rand in dollar(sente). Op 1 Augustus 2011 kon mens $0.1502 kry vir 'n rand en op 15 Maart 2013 slegs $0.1089, 38% minder.

 

Cyprus is 'n klein eilandjie, en tog, as die direkte deposito vermindering deurgevoer word, gaan nie net die Cypriote bedreig voel nie. Kwantitatiewe verslapping wat onopsigtelik is vir die meerderheid laat individue nie so direk bedreigd voel nie.



Monday 11 February 2013



 Sedert Die Groot Sametrekking

 

 Hier is die JSE se styging sedert November 2012 in daaglikse kerse.


Eintlik styg die JSE al sedert November 2008 en het in Julie 2012 die hoogtepunt van 2008 verbygegaan. Bygesê, met tye het die indeks teruggesak met meegaaande oomblikke van twyfel of die groot sametrekking agter die rug is, soos aan die begin van Augustus 2011 toe die Amerikaners hul skuldplafon moes verhoog. Amerika het hul AAA gradering verloor, en die Rand het binne 8 weke met 20% verswak teenoor die dollar. Aan die begin van Maart 2013 gaan die Amerikaners weer voor hul skuldplafon te staan kom. Tog het die ekonomiese omgewing wêreldwyd reeds verbeter, dink maar aan die Europese Sentrale Bank se LTRO lenings aan banke (in Desember 2011 en Februarie 2012) wat nou al terug betaal word.
Op hierdie maandelikse kersgrafiek van die JSE Alsi kan die pad van die indeks die afgelope vier jaar gesien word, en die nuwe hoogtes wat nou bereik word. Die besigheidssiklus is by die herstelfase verby en besig om uit te brei. Vooruitsigte vir 'n resessie word nie meer bespreek nie.


Ek kyk na die grafieke van Sasol en Grindrod omdat olie en vervoer belangrik is vir ekonomiese groei.
Die prys van brentolie het nou bo $112 beweeg, oppad na $126 waar brentolie al twee keer, in April 2011 en Maart 2012, gedraai het sedert die groot sametrekking van 2008.


Sasol se prys hou rigting saam met die van brentolie.


Op hierdie daaglikse kersgrafiek het Sasol se prys oortuigend by die keerlyn verby 37000  beweeg oppad na 41150.


En die maandelikse kersgrafiek wys die kanaal waarin Sasol beweeg sedert 2008 en dat hy reeds in Januarie 2012 by 41150 was. Sasol se prys is nog steeds laer as die hoogtepunt van 2008.


Daar is hoë verwagtings vir Grindrod wat sy 2012 jaarverslag aan die einde van Februarie bekend gaan maak. Die grafiek het in November en Desember 'n plat driehoek gevorm en die toepaslike hoeveelheid gestyg. Nou het 'n 'vlag' gevorm met die vooruitsig van 'n styging tot 1950.


Grindrod se prys is nog 30% laer as die hoogtepunt van Julie 2008 en die grafiek met maadelikse kerse wys die pad tot hierdie week.


Met al die goeie vooruitsigte is dit nodig om in gedagte te hou dat aandele se pryspad uit stygings  en dalings bestaan. Die Amerikaners en hul skuldplafonworstelinge moet in die oog gehou word vir moontlike teleurstelling.