Monday 11 February 2013



 Sedert Die Groot Sametrekking

 

 Hier is die JSE se styging sedert November 2012 in daaglikse kerse.


Eintlik styg die JSE al sedert November 2008 en het in Julie 2012 die hoogtepunt van 2008 verbygegaan. Bygesê, met tye het die indeks teruggesak met meegaaande oomblikke van twyfel of die groot sametrekking agter die rug is, soos aan die begin van Augustus 2011 toe die Amerikaners hul skuldplafon moes verhoog. Amerika het hul AAA gradering verloor, en die Rand het binne 8 weke met 20% verswak teenoor die dollar. Aan die begin van Maart 2013 gaan die Amerikaners weer voor hul skuldplafon te staan kom. Tog het die ekonomiese omgewing wêreldwyd reeds verbeter, dink maar aan die Europese Sentrale Bank se LTRO lenings aan banke (in Desember 2011 en Februarie 2012) wat nou al terug betaal word.
Op hierdie maandelikse kersgrafiek van die JSE Alsi kan die pad van die indeks die afgelope vier jaar gesien word, en die nuwe hoogtes wat nou bereik word. Die besigheidssiklus is by die herstelfase verby en besig om uit te brei. Vooruitsigte vir 'n resessie word nie meer bespreek nie.


Ek kyk na die grafieke van Sasol en Grindrod omdat olie en vervoer belangrik is vir ekonomiese groei.
Die prys van brentolie het nou bo $112 beweeg, oppad na $126 waar brentolie al twee keer, in April 2011 en Maart 2012, gedraai het sedert die groot sametrekking van 2008.


Sasol se prys hou rigting saam met die van brentolie.


Op hierdie daaglikse kersgrafiek het Sasol se prys oortuigend by die keerlyn verby 37000  beweeg oppad na 41150.


En die maandelikse kersgrafiek wys die kanaal waarin Sasol beweeg sedert 2008 en dat hy reeds in Januarie 2012 by 41150 was. Sasol se prys is nog steeds laer as die hoogtepunt van 2008.


Daar is hoë verwagtings vir Grindrod wat sy 2012 jaarverslag aan die einde van Februarie bekend gaan maak. Die grafiek het in November en Desember 'n plat driehoek gevorm en die toepaslike hoeveelheid gestyg. Nou het 'n 'vlag' gevorm met die vooruitsig van 'n styging tot 1950.


Grindrod se prys is nog 30% laer as die hoogtepunt van Julie 2008 en die grafiek met maadelikse kerse wys die pad tot hierdie week.


Met al die goeie vooruitsigte is dit nodig om in gedagte te hou dat aandele se pryspad uit stygings  en dalings bestaan. Die Amerikaners en hul skuldplafonworstelinge moet in die oog gehou word vir moontlike teleurstelling.