Saturday 6 April 2013


Uit Pas Uit

Hier is als nie pluis nie. Die ekonomie laat my dink aan 'n boer wat 'n pragtige trop beeste het maar nie 'n sprietjie gras nie. Die indekse styg, maar grondstowwe wat die stof is waarmee goedere gemaak word, styg nie saam nie.

Die DOW (+11.1%) en die FTSE (+5.97%) het hierdie jaar gaaf weggespring. Die JSE hou egter nie meer by nie en het tot dusver -1.91% afgestaan. Waar die DOW en FTSE nou besig is om by hul hoogtepunte van 2007 verby te steek, het die JSE al in Maart 2012 by sy voorkrises hoogtepunt van 33,401 verbygegaan. Hier is my lyngrafiek van die DOW se daaglikse sluitingspryse.


En die JSE Alsi oor dieselfde tydperk:


Grondstofpryse styg nie saam nie

Grondstof prysveranderinge sedert Januarie 2013:

     Aluminium :     -9.29%
     Koper          :    - 6.60%
     Lood            :   -11.41%
     Niekel         :   - 7.19 %
     Sink             :   - 9.46%
     Staal            :   -37.50%
     Steenkool     :     -8.41%
     Ystererts       :     -2.51%
      Brent Olie    :    -5.36%

En sedert die begin van 2012 is die pryse óf dieselfde, óf laer.



My Maandelikse grafiek vir koper wys dat daar kans vir verdere dalings is:


Koper daal 25% sedert 1 Augustus 2011.

Grondstofaandele styg nie saam met die JSE Indeks nie

Die JSE se grondstofaandele indeks lyk ook gereed vir verdere dalings.


 Die hulpbronindeks daal 11% sedert 1 Augustus 2011.

Finansiële aandele styg saam met die JSE Indeks

Hier is die indeks vir 15 van die JSE se finansiële aandele.


Hierdie indeks het al 24% hoër gestyg as die hoogtepunt van 2008.

Finansiële dienste is die dryfkrag agter die JSE stygings.

Die Dollar

Die dollar en al die kwantitatiewe verslappingsprogramme is van belang omdat 'n sterk dollar negatief kan wees vir grondstofpryse. Hierdie grafiek wys die dollar sedert Augustus 2011 in 'n stygende kanaal beweeg.


Die koper en hulpbronindeks toon in dieselfde tyd 'n dalende en sywaartse beweging. Dis makliker om die verband tussen die dollar en grondstowwe op die maandelikse grafieke te sien. Die dollar styg 11% sedert 1 Augustus 2011.


Toekoms

Die ekonomie is uit pas uit want die finansiële deel dryf alleen die stygings. Nou gaan die Japanese Sentrale Bank ook inklim met kwantitatiewe verslapping wat Japan se monetêre basis met tot 10% van hul BBP kan vergroot. Amerika kom net by 6.8% van hul BBP. (Dis volgens John Dobosz op forbes.com.)

Hoe lank kan dit in 'n  ekonomie wat nie op kos en goedere produksie gebou is nie goed gaan?