Monday 8 October 2012

Week van 5 Oktober 2012

Derde Kwartaal Verwagtings


Oktober word in die aandelemarkte wêreld nie as die 'mooiste, mooiste' maand beskou nie maar as die maand waarin katastrofes plaasvind in die vorm van onverwagte vinnige groot dalings in aandeelpryse. Dit gebeur selde en beslis nie elke Oktober nie.

Maatskappy verdienstes is nou onder die soeklig omdat Alcoa volgende week Dindag sy finansiële verslag vir die kwartaal bekend maak en marksentiment sal bepaal. Die media is vol artikels wat verklaar dat metaalpryse daal en die diepste donkertes vir kommoditeits produsente voorlê. Wanneer pryse daal is die voorspellings gewoonlik dat daar verdere dalings gaan wees en wanneer die pryse styg word verdere stygings as 'n uitgemaakte saak voorspel.

As ek na die pryse van metale kyk sien ek: Die prys van aluminium daal sedert April 2011, bereik 'n laagtepunt in Augustus en styg sedertdien. Koper, lood, niekel en sink se pryse volg soorgelyke patrone.


Hierdie patroon is ook te sien by kommoditeits aandele, soos BHP Billiton wat sedert Junie styg en Vrydag net voor die keerlyn by 27300 gesluit het. As BHP Billiton bo 27300 styg, sal die lig vorentoe helderder skyn.


Daar is ook vrees onder beleggers wat na die langtermyn grafiek van die S&P 500 kyk en sien dat die patroon wat sedert 2000 gevorm het al te veel na 'n trippeltop formasie lyk en dit herroep die 2008 daling. 'n Grafiek alleen kan nie met sekerheid aandui dat daar 'n skerp daling gaan kom nie. Om skerp ( 25% of meer) te daal, moet die indeks dan, nou, by 'n hoogtepunt wees, en wat sou so 'n hoogtepunt aandui? Uitbundige optimisme vir verdere stygings is gewoonlik 'n aanduiding.

Ek neem eerder pessimisme waar. Twyfel of Europa sy pad deur al die skuld probleme sal vind. Amerika se kommer oor werkloosheid en die 'fiskale afgrond' waarop 'n antwoord gevind moet word. Sjiena, lees ek, het hope steenkool en ystererts wat nie verbruik word nie en 'hope' leë woonstelgeboue, om van die skuld by banke nie te praat nie.

So uitsigloos gaan dit, dat sentrale banke al begin optree het om verligting te bring. Lyk dit nie miskien asof ons nader aan 'n bodem is, as aan 'n 'top' nie. En, sou die indekse hierdie kwartaal daal, gaan ek dit vreesloos beskou as bloot 'n daling wat in die vierde kwartaal deur stygings gevolg gaan word.

Hier is my grafiek van die DOW met weeklikse kerse en die 'wig' wat gevorm het. Die wig dui op 'n  moontlike daling van ongeveer 10%. Dis ook moontlik dat 'goeie' nuus hierdie indeks kan laat styg en die kanaal volg wat deur die stippellyne aangedui word.


'n Soortgelyke 'wig' kan in die JSE alle aandele indeks gesien word. Styg hierdie indeks bo 36,900 beteken dit die skerper stygende stippellyn aangeduide kanaal word gevolg en 'n daling onder 34,800, sal beteken dat die vlakker kanaal gevolg word.


Die Verswakkende Rand

Die Rand het hierdie week vinnig verswak, met 5.23% teenoor die dollar, 5.53% teenoor die pond en 7.02% teenoor die euro. Sedert Januarie 2011 het die Rand met 35% teenoor die pond verswak. Verdere verswakking, tot R15 en dan R17 vir 'n pond is die vooruitsig.


Die goudprys, in Rand, het die verswakkende Rand verbygesteek en hierdie week met 6.18% gestyg. Newgold was die agterhoede en het hierdie week net met 3.6% gestyg. Hier het ek die prys van goud, in Rand en die dollar/Rand saamgesit.


Die platinaprys het ook verder gestyg en die gaping met die platina aandele vergroot. Hierdie gaping sal vroeër of later krimp, en die waarskynlikse is dat platina aandeelpryse sal styg. My grafiek van Anglo American Platinum en platina:


Miskien, miskien is hierdie Oktober die 'mooiste, mooiste' maand.

No comments:

Post a Comment