Tuesday 25 September 2012

Week van 21 September 2012

Die Rede vir Ekonomiese Stimulering

Om die rede vir ekonomiese stimulering uit die oog te verloor is om toe te gee aan selfmisleiding. Vele stimulerings programme is al sedert die finansiële inkrimping in 2008 in werking gestel; tot nog toe, nie genoeg nie. Die Bank van Japan het hierdie week aangekondig dat hul bateaankope program met nog ¥10 triljoen verhoog gaan word tot ¥80 trijloen. Amerika, Europa, Britanje, Switserland, Japan en Sjiena se pogings om wêreldwye resessie af te weer moet vroeër of later 'n resultaat lewer. Almal woeker om 'n ekonomiese droogte te verhoed deur bietjie nat te lei.

Die Reaksie van Grondstowwe

Na die Amerikaners se stimilusprogram aankondiging het die JSE finansiële en industriële indekse teruggesak en die hulpbronindeks het uitbundig gestyg. Hierdie week was daar 'n ommekeer; die hulpbronindeks het teruggesak (-3.66%) en die finansiële indeks het sy vroeëre stygende tendens voortgesit (+1.47%). Daar's nog net beloftes van beter vooruitsigte vir grondstowwe en verdere dalings moet verwag word.


Omdat Sjienese verbruik van grondstowwe as die stimilus vir stygende grondstofpryse gesien word, is dit nodig om na die Shangaise Saamgestelde Indeks te bekyk. Die indeks styg uit die dalende kanaal (op my grafiek met 'n stippellyn aangedui), na die aankondiging van infrastruktuurprojekte in Sjiena, maar draai terug en daal Donderdag om 'n nuwe laagtepunt, 2024, te maak. Sedert die hoogtepunt van die indeks in Maart hierdie jaar, 'n daling van -17.72%. Die jaar tot dusver, sedert die opening, 2119, in Januarie, tot 21 September 2012 se sluiting, 2026, het die indeks gedaal met -4.38%. Gemeet teen die S&P, FTSE 100, CAC 40, Hang Seng, Nikkei 225, BSE Sensex,  en  JSE Alsi, toon slegs die Shangaise indeks 'n daling vir 2012 tot dusver.


Aluminium het hierdie week met -3.84% gedaal en koper tree -1.41%  terug. Opvallend was die styging van 9.09% in die prys van staal stawe op die LME.


 Van die hoogtepunt, 700, in Augustus 2011 tot die laagtepunt, 316, op 13 September 2012 was 'n daling van 54%. 'n Styging bo 370 sal aandui dat dit met staalvervaardiging beter gaan.

Die Prys van Olie

Maandag het olie met 3% gedaal en dalings is die res van die week voortgesit en Brent sluit vrydag 4.44% laer. Spekulasie oor wat die daling veroorsaak het was volop: 'n 'foutiewe' rekenaar inskrywing, die Saudies wat meer olie gaan pomp, Amerika wat reserwe olievoorrade vrygestel het (dit is ontken) ens. Dit was seker bloot net iemand wat verkoop het nadat hy die kanse vir verdere stygings in die olieprys oorweeg het. Die vraag na olie hou verband met ekonomiese groei en ontwikkeling en dit was die afgelope tyd nie so positief dat daar van vreugde rondgedans is nie, in teendeel, die voorspellings bied geen inspirasie nie. Tel hierby die sukses wat behaal is om voertuig brandstof verbruik te krimp. En die vooruitsig van elektriese voertuie. Belasting op brandstof is 'n belangrike inkomste vir regerings en verminderde brandstof verbruik verminder hierdie inkomste. Die Britse regering oorweeg 'n 'pad belasting' om hierdie inkomste op dieselfde vlak te probeer hou.
Ten spyte daarvan dat 'n swakker dollar 'n hoër olieprys impliseer, dink ek dat daar goedkoper olie in die vooruitsig is.


Verwagtings vir Goud

Goud se grafiek het nou 'n 'koppie' gevorm en lyk asof 'n 'oor' gevorm gaan word. Dit beteken 'n laer prys vir 'n wyle en wanneer die prys $1,800 verbysteek, sal die stygings weer voorgesit word.
Hier is my grafiek vanaf die hoogtepunt in September 2011 to vrydag 21 September 2012.


Mag hierdie week net positewe verassing oplewer.

No comments:

Post a Comment