Monday 19 November 2012

Die Verhouding tussen Prys en Verdienste

Die prys van 'n aandeel in 'n maatskappy, gedeel deur die verdienste per aandeel gee die verhouding tussen prys en verdienste, die P/V (prys-verdienste). Hierdie syfer stel die belegger in staat om verskillende beleggings te vergelyk en die mark se oor- of onderwaardering van die belegging te sien.

As voorbeeld:
BHP Billiton se sluitingsprys op 15 November 2012 was 26957c en die verdienste per aandeel (soos in hul finansiële staat van Junie 2012) was 2628.59c. Dit gee 'n P/V van 10.25.

      26957 ÷ 2628.59 = 10.25

'n Verdienste van 2628.59c vir tien en 'n kwart jaar is ekwivalent aan die huidige prys van BHP Billiton.

Om te sien hoe prys en verdienste rigting hou, het ek BHP Billiton se verdienste (op die regterkant se as) en prys aan die einde van die frinansiële periode (op die linkerkant se as) op een grafiek saam gesit.


Naspers se sluitingsprys op 16 November 2012 was 54400c en die verdienste per aandeel (Maart 2012 finansiële verslag) was 1297c. Dit gee 'n P/V van 41.94.

Saamgesit in 'n grafiek loop Naspers se verdienste (op die regterkant se as) en prys aan die einde van die periode (op die linkerkant se as) as volg:



BHP Billiton, 'n gediversifiseerde grondstof produsent, met 'n P/V van 10.25 kan met Naspers, wat, onder andere, betaaltelevisie bedryf en 'n P/V van 41.94 het, vergelyk word. Naspers se P/V is aansienlik hoër as die van BHP Billiton. Hiervolgens het beleggers hoër verwagtings van Naspers se toekomstige verdienste as van Billiton s'n. Vanuit die oogpunt van 'n voornemende belegger kan Naspers as 'duur' beskou word en Billiton as 'n 'waarde' aandeel - een met 'n laer prys.

Wanneer 'n maatskappy se aandele 'n besonders lae P/V het, dui dit daarop dat beleggers min groei verwag en nie optimisties is dat die prys aansienlik sal styg nie.

Vegelyk Reinet wat op 16 November op 1588c gesluit het, 'n verdienste (Maart 2012 finansiële verslag) van 451c per aandeel het en dus 'n P/V van 3.51.



Met die formule wat die P/V bepaal kan ander beleggings ook vergelyk word, bv: Kontant wat teen 'n opbrengs van 9.5% belê word, gee 'n P/V van 10.52, wanneer 100 deur 9.5 gedeel word.

Die prys-verdienste verhouding is van hulp wanneer verskillende beleggings vergelyk word en een apek waarna gekyk kan word wanneer 'n belegging oorweeg word. 'n Suksesvolle beleggings keuse word gemaak wanneer in 'n maatskappy belê word wat, na deeglike ondersoek, blyk groei potensiaal te hê, maar nog nie deur die mark na waarde geskat word nie. Anders gestel: 'n belegging in 'n maatskappy met goeie waarde teen 'n lae prys.   

Week van 16 November 2012

Vooruitskouend en Terugskouend

Agter die rug: Amerikaanse presidensiële verkiesing en Sjienese aanstelling van nuwe leiers.
Voor in die pad: Amerikaners wat 'n plan moet maak vir regeringsbesparings en belasting verhogings voor die einde van hierdie jaar. Europa se voortslepende worsteling met hul skuld. Sjiena wat staal oorproduksie, nie betalende banklenings, geboue sonder huurders en nou ook verswakkende klerebedryf uitvoere sal moet aanspreek saam met ekonomiese herbalansering.

Ekonomiese bedrywighede wêreldwyd is besig om voort te beur en is 'n voortdurende proses van probleem hantering. Daar is nie 'n uiteindelike oplossing wat alles seepglad sal laat verloop en 'n utopia tot stand sal bring nie. Elke dag dra by: vooruitskouing skep verwagtings en terugskouing bring hopelik groter insig.

Op die 2de November het die JSE Alsi op 'n hoogtepunt van 37,664 gesluit, op die 6de November 'n vinnige draai by 37,749 gemaak en nou weer gedaal om vrydag die 16de op 36,818 te sluit.


Daar is ondersteuning by 36,620 en die 50 dae bewegende gemiddeld.

Hou die Amerikaners ingedagte. Die eerste aankope van die $40 biljoen per maand se verband gesteunde sekuriteite wat in September deur Ben Bernanke aangekondig is, se effek kan dalk binnekort gesien word.

Die toekoms is nie uitsigloos nie, ten spyte van die nuusopskrifte, en wanneer die markte daal, kyk gerus fyn of die aandele waarin jy belangstel nie dalk nou 'n moontlike winskoop is nie.

Friday 2 November 2012

Tot Einde Oktober 2012

Goeie Vooruitsig vir 'n Paar Aandele

Hier is 'n klompie aandeelgrafieke met hoopvolle dophoupunte wat ek raaksien en goeie vooruitsigte.

Hosken Consolidated Investments (HCI)

Hosken Consolidated Investments (HCI) het sy beleggings gedurende September 2012 geherstruktureer deur Vukani Gaming, HCI Bingo, HCI KWV en Formex saam te sit in Niveus Investments. In die middel van September is Niveus Investments op die JSE genoteer.

Die afgelope drie jaar beweeg HCI se prys sywaarts en die ontbondeling se effek begin nou wys in die stygende prys. (Die pryse is in ZARc.) 'n Daling terug na 8800, sal negatief wees.


Die maandelikse kersgrafiek toon die belangrikheid van 8800.

 
HCI se September 2012 tussentydseverslag gaan op 16 November 2012 bekend gemaak word. Om 'n oorsig van HCI se syfers te kry het ek 'n paar saamgesit en 'n grafiek getrek. Die verdienste per aandeel (blou) en dividend per aandeel (rooi) gebruik die regterkant se as. Die netto batewaarde per aandeel (groen) en prys, aan die einde van die periode, (pers) die linkerkant se as.


En die syfers:

Niveus Investments (NIV)

Niveus Investments het ingeval teen 2000 en gedaal tot 789, vanwaar my grafiek begin en die verloop tot die 30ste Okotober se sluitingsprys van 1100 wys.


ILLOVO (ILV)

Illovo (ILV) se prys styg sedert Meimaand.


Ek verwag 'n goeie resultaat wanneer die September 2012 tussentydse verslag op 23 November bekend gemaak word. Illovo Sugar (Malawi) Ltd en Zambia Sugar Plc (filiale van ILV) het hul resultate 'n paar dae gelede bekend gemaak en hul verdienste per aandeel het onderskeidelik met 137% en 9% gestyg as dit vergelyk word met dieselfde ses maande van 2011.

ILV se daaglikse kersgrafiek sedert Augustus 2012:


Die punt wat ek dophou vir Illovo is 3400 soos op die maandelikse kersgrafiek. As ILV daar verbygaan voorsien die patroon wat deur die kerse gevorm is 'n styging gelykstaande aan die hoogte van die 'koppie' wat gevorm het oor die afgelope drie jaar.


'n Grafiek van Illovo se verdienste per aandeel (blou), dividend per aandeel (rooi) op die regterkant se as en die netto batewaarde (groen) en einde van die periode prys (pers) op die linkerkant se as.


En die syfers wat ek vir die grafiek gebruik het:


'n Bietjie soetigheid van Illovo, 'n busrit, 'n glasie wyn en 'n kans om dobbelstene te gooi kan troos bied op die Groot Resessie se pad na beter tye.