Monday 19 November 2012

Die Verhouding tussen Prys en Verdienste

Die prys van 'n aandeel in 'n maatskappy, gedeel deur die verdienste per aandeel gee die verhouding tussen prys en verdienste, die P/V (prys-verdienste). Hierdie syfer stel die belegger in staat om verskillende beleggings te vergelyk en die mark se oor- of onderwaardering van die belegging te sien.

As voorbeeld:
BHP Billiton se sluitingsprys op 15 November 2012 was 26957c en die verdienste per aandeel (soos in hul finansiële staat van Junie 2012) was 2628.59c. Dit gee 'n P/V van 10.25.

      26957 ÷ 2628.59 = 10.25

'n Verdienste van 2628.59c vir tien en 'n kwart jaar is ekwivalent aan die huidige prys van BHP Billiton.

Om te sien hoe prys en verdienste rigting hou, het ek BHP Billiton se verdienste (op die regterkant se as) en prys aan die einde van die frinansiële periode (op die linkerkant se as) op een grafiek saam gesit.


Naspers se sluitingsprys op 16 November 2012 was 54400c en die verdienste per aandeel (Maart 2012 finansiële verslag) was 1297c. Dit gee 'n P/V van 41.94.

Saamgesit in 'n grafiek loop Naspers se verdienste (op die regterkant se as) en prys aan die einde van die periode (op die linkerkant se as) as volg:



BHP Billiton, 'n gediversifiseerde grondstof produsent, met 'n P/V van 10.25 kan met Naspers, wat, onder andere, betaaltelevisie bedryf en 'n P/V van 41.94 het, vergelyk word. Naspers se P/V is aansienlik hoër as die van BHP Billiton. Hiervolgens het beleggers hoër verwagtings van Naspers se toekomstige verdienste as van Billiton s'n. Vanuit die oogpunt van 'n voornemende belegger kan Naspers as 'duur' beskou word en Billiton as 'n 'waarde' aandeel - een met 'n laer prys.

Wanneer 'n maatskappy se aandele 'n besonders lae P/V het, dui dit daarop dat beleggers min groei verwag en nie optimisties is dat die prys aansienlik sal styg nie.

Vegelyk Reinet wat op 16 November op 1588c gesluit het, 'n verdienste (Maart 2012 finansiële verslag) van 451c per aandeel het en dus 'n P/V van 3.51.



Met die formule wat die P/V bepaal kan ander beleggings ook vergelyk word, bv: Kontant wat teen 'n opbrengs van 9.5% belê word, gee 'n P/V van 10.52, wanneer 100 deur 9.5 gedeel word.

Die prys-verdienste verhouding is van hulp wanneer verskillende beleggings vergelyk word en een apek waarna gekyk kan word wanneer 'n belegging oorweeg word. 'n Suksesvolle beleggings keuse word gemaak wanneer in 'n maatskappy belê word wat, na deeglike ondersoek, blyk groei potensiaal te hê, maar nog nie deur die mark na waarde geskat word nie. Anders gestel: 'n belegging in 'n maatskappy met goeie waarde teen 'n lae prys.   

No comments:

Post a Comment