Tuesday 11 December 2012


Met Die Einde Van Die Dans

 Dinsdag, 11 Desember 2012

Die Amerikaanse FOMC (Federal Open Market Committee) het verledejaar, na hul tweede kwantitatiewe verslappingsprogram voltooi is, aangekondig dat die Amerikaanse ekonomie verder ondersteun gaan word deur die verkoop van korttermyn effekte en die aankoop van langtermyn effekte. Na hierdie program, wat sedert Oktober 2011 geimplimenteer word, word verwys as 'Operation Twist' omdat die program ten doel gehad het om leenkoste te verlaag deur die lang- en korttermyn opbrengskoerse te 'draai', oftewel, te 'twist'. Amptelik is die program die 'Maturity Extension Program' genoem. Aanvanklik sou die program teen Junie 2012 ten einde loop, maar is verleng tot Desember 2012.

 Nou's ons amper daar.

'n Grafiek van die DOW en die opbrengskoers van Amerikaanse 10jaar effekte (bonds) dui die effek van die program duidelik.


Die Dow en 10jaar opbrengskoers hou gewoonlik in dieselfde rigting, maar hul paaie skei met die aanvang van 'Operation Twist'. Terwyl die DOW styg, beweeg die opbrengskoers sywaarts, of daal. Met voltooing van die program sal die opbrengskoers vinnig styg en die prys van effekte (bonds) daal om weer die vorige balans met die DOW te herstel.

 'Operation Twist' het ook die beweging van die dollar, goud en alles wat daarmee saam beweeg beinvloed.

Op hierdie grafiek het ek die DOW en die dollar saamgesit om die verskil in die beweging van die dollar teenoor die DOW tydens die kwantitatiewe verslappingsprogramme, of, QE, en 'Operation Twist' aan te dui. Tydens die QE programme het die dollar en die DOW in teenoorstaande rigtings beweeg, dws, die dollar het verswak terwyl die DOW gestyg het, en tydens 'Operation Twist' beweeg hulle in dieselfde rigting; stimulering vind plaas sonder dollar verswakking.


Wanneer die dollar in 'n grafiek saam met goud gesit word, daal die dollar terwyl goud styg tydens die QE programme. Die posisies is omgekeerd tydens 'Operation Twist' en goud kry 'n dalende tendens terwyl die dollar styg.


Uit hierdie grafieke lei ek af dat die voltooing van 'Operation Twist' opbrengskoerse aansielik sal laat styg (met gepaardgaande dalende effektepryse) en verhoogde leenkostes (rentekoerse op verbande, lenings, ens). Juis dit wat deur die program 'laag' gehou is om die Amerikaanse ekonomie te stimuleer.

Môre, die 12de Desember gaan Ben Bernanke, die voorsitter van die FOMC, 'n verklarinig maak. Daar word verwag dat voortgegaan sal word met die aankoop van langertermyn effekte maar die verkoop van korttermyn effekte, wat die langertermynaankope befonds het, gestaak sal word. Dit kan tot stygings van die goudprys (en metaalprys, ens) lei en 'n gepaardgaande daling van die dollar.

Al sou die dans verby wees, die musiek duur voort.



No comments:

Post a Comment