Monday 27 August 2012

Goud en die Rand

Die Week van 24 Augustus 2012


Stygings in die prys van die rand, goud en ander edelmetale het hierdie week my oog gevang. Sedert 10 Augustus styg goud 3%, palladium 12%, platina 10% en silver 9%. Die rand styg met 4% teenoor die dollar, 5% teenoor die pond en 6% teenoor die euro. Die rand verswak. Die dollar, (die indeks wat die dollar teen 'n mandjie geldeenhede - EUR, JPY, GBP, CAD, SEK, CHF - meet), het met 1% gedaal (verswak). Al hierdie bewegings wys dat dit nou 'n geleë tyd is om 'n belegging in goud te begin oorweeg. Daar's nie haas nie, pryse wat haastig styg draai gewoonlik weer bietjie terug.

Die Dollar

Sprake van kwantitatiewe verslapping (QE) lyk asof dit bydra tot die dollar se verswakking. Op Vrydag, 31 Augustus, gaan die Federale Reserwe Voorsitter, Ben Bernanke, 'n toespraak by die 'Jackson Hole' Simposium lewer. Die moontlike kop-en-skouer patroon (nog een skouer kort) in my grafiek van die dollar, wys op die verwagting dat daar 'n aankondiging sal wees dat die Amerikaners nog geld gaan druk. As die dollar onder 81.35 daal, sal dit beteken dat aan hierdie verwagting voldoen is.


Pessimisme oor die ekonomië van Amerika, Britanje, Europa en Sjiena het die afgelope tyd hoogdy gevier en al die geskryf en gesels daaroor het die pessimisme versterk. Mario Draghi van die Europese Sentrale Bank met sy uitspraak van eruo ondersteuning en Ben Bernanke se uitsprake die afgelope tyd het hierdie versterkende effek in die bek geruk. Nou word daar geskryf en gesels oor die kanse van verdere kwantitatiewe verslapping en dit skep positiewe verwagtings. Ek twyfel of Bernanke en Draghi binnekort daadwerklik sal optree, nogtans lyk dit asof die tafel gedek is.

Die Rand

Verdere verswakking van die rand teenoor die dollar lyk moontlik en sal gesien word as die prys van 'n dollar bo R8.55 styg. Sou die prys laer as R8.15 daal, is 'n sterker rand in die vooruitsig.


Dieselfde met die GBP/ZAR. 'n Styging bo R13.30 vir 'n pond, verwag verdere verswakking van die rand. 'n Daling onder R12.58 skep die vooruitsig van 'n sterker rand wat oppad is na R11.79.


Teenoor die euro lyk verdere verswakking van die rand soos 'n uitgemaakte saak. Nogtans hou ek 'n prys van R10.64 vir 'n euro dop vir bevestiging. Sou die rand egter versterk, mik ons vir R9.86.

 

Goud

Die beweging van die dollar en die prys van goud in my grafiek waar ek hulle saamgesit het wys hulle verhouding van stygings en dalings.


As ek die prys van goud in rand en die USD/ZAR saamsit, trek die twee saam soos karperde.


Om in fisiese goud te belê sal 'n beslommernis wees, veral as die tydperk waarin jy in goud wil wees kort is, maande in plaas van jare. Die beursverhandelde fonds (ETF) Newgold kan die beslommernis verlig.

 

Newgold

Op 23 Augustus kondig Newgold (GLD) in 'n SENS aan dat die hoeveelheid uitgereikte Newgold skuldbriewe verhoog is en nou op 139,236,300 staan en 1,349,433 onse goud verteenwoordig. Dit was die vierde aankondiging van 'n verhoging in die aantal skuldbriewe die afgelope maand. Wanneer die goudprys daal, word skuldbriewe gekanselleer.

Hier is 'n maandelikse kersgrafiek van Newgold sedert Oktober 2009.


En 'n daaglikse grafiek sedert Mei 2012 waarop die styging bo 13150 van die afgelope paar dae duidelik is.


Die belangrikste vraag wat nou gevra moet word is: goud of JSE, watter een het die beste kans vir styging? En om hierdie vraag te antwoord het ek die JSE Alsi en Newgold saamgesit.


Sedert Augustus 2011 was daar twee geleenthede waar Newgold vinniger as die JSE gestyg het en twee van onderpresstasie. Tydsberekening is dus van groot belang. Ek reken dat as die rand verder verswak en die prys van goud met uitbundigheid voortstyg dat dit waarskynlik is dat  Newgold weer tydelik beter as die Alsi sal presteer.

'n Vergelyking van die JSE Alsi en die USD/ZAR bevestig.


Fyn dink en die deur dophou is hier aan die orde. Tyd en hoeveelheid was nog altyd van die grootste belang wanneer in goud belê word. Aankope van goud vir gebruik in juweliersware het die afgelope tyd saam met verswakkende geldeenhede gekwyn terwyl aankope deur sentrale banke aan't styg is.
 

In die 16de eeu het die Spanjaarde, na hul verowerings in Suid Amerika, agtergekom dat hoeveelheid beskikbare goud en silwer belangrik is en dat goud en silwer nie die uiteindelike antwoord op alles is nie.

Ek lees in Niall Ferguson se boek 'The Ascent of Money':

"The convoys of ships - up to a hundred at a time - which transported 170 tons of silver a year across the Atlantic, docked at Seville. A fifth of all that was produced was reserved to the crown accounting for 44 per cent of total royal expenditure at the peak in the late sixteenth century. But the way the money was spent ensured that Spain's newfound wealth provided the entire continent with a monetary stimulus."

En verder:
"And yet all the silver of the New World could not bring the rebellious Dutch Republic to heal; could not secure England for the Spanish crown; could not save Spain from an inexorable economic and imperial decline. The reason? They dug up so much silver to pay for their wars of conquest that the metal itself dramatically declined in value - that is to say, in its purchasing power with respect to other goods.

What the Spaniards failed to understand is that the value of precious metal is not absolute. Money is worth only what someone else is willing to give you for it. An increase in its supply will not  make a society richer, though it may enrich the government that monopolizes the production of money. Other things being equal, monetarry expansion will merely make prices higher."

Mag die week wat voorlê 'n goeie goue week wees.


Sunday 19 August 2012


Week van 17 Augustus 2012

Optimisme is weer aan die orde van die dag. As die markte nou volgende week terugsak gaan ek dit beskou as ‘n tree of wat terug om ‘n beter aanloop te maak vir die volgende sprong vorentoe.

Cees Bruggemans gee ‘n gawe uiteensetting van die hoofekonomiese probleme in Amerika (gereed om hul geldvoorraad te vergroot), Europa (die euro is hier om te bly) en Sjiena (blykbaar klaar die bodem getref). Daar’s hoop vir stygings.
Hier is die webskakel:
Cees Bruggemans 13 Aug 2012 Preparing for some kind of liftoff

Die vooruitsig van negatiewe en 0 – 2% groei (vir die wêreld) word wyd bespreek en beperk stilletjies ons denke tussen 0 en 2. Dis tyd om ook die moontlikheid van groei teen 3 – 6% te oorweeg, al is dit net om ons dinkpatroon te verbreed en te vra: Hoekom sou dit onmoontlik wees?

Die DOW het hierdie week gestyg tot 13,275, naby die onlangse vorige hoogtepunt, 13,265 (1 Mei 2012). Sou die indeks nou terugsak tot, om en by, die blou horisontale lyn (in my grafiek) en dan weer styg om in die volgende paar maande weer 13265 te haal, het ‘n onderstebo kop-en-skouer patroon gevorm. Dit sal dan die pad oopmaak na die DOW se vorige hoogstepunt van 14000 waar hy laas in Oktober 2007 was. Baie kan gebeur om hierdie uitleg in die wiele te ry, maar dis moontlik. 



Die JSE Alsi het sedert 25 Mei meer as 9% gestyg en beweeg nou sywaarts. Die Rand het die afgelope week meer as 3.5% verswak teenoor die pond, dollar en euro. Dit lyk of die Alsi nou die pas gaan markeer tussen 35743 en 35330.



 Vlagpatrone
 
Hierdie week het Gath McKenzie van die program Traders Corner op Summit tv, AngloGold Ashanti gekoop omdat ANG se grafiek ‘n vlag patroon gemaak het. Dit was ook die onderwerp van IG Markets se ‘Chart of the Day’ in hul nuusbrief ‘Weekly Technical Analysis’.

Die vlagpatroon bestaan uit ‘n ‘paal’ en ‘n ‘vlag’, en die verwagte styging is die lengte van die paal.
Die teiken van ANG, volgens hulle is, 30550. Ek is meer optimisities.



 
Exxaro het ook ‘n ‘vlag en paal’ patroon gevorm die afgelope tyd. Die verskil met ANG se patroon is dat ANG reeds ‘n ‘kers’ gemaak het bokant die vlag en dit bevestig die rigting. ‘n Kers bo EXX se ‘vlag’ sal die pad na 20000 aanwys.



 
Ten spyte van die dalende steenkool uitvoerprys (Richards Baai) het EXX  gestyg.  Sedert Februarie 2012 daal beide. Die steenkool uitvoer prys draai in die middel van Junie en dit lyk asof EXX mee doen. Sjiena en Indië koop in Julie groter hoeveelhede SA steenkool wat meer as vergoed het vir die effense verminderde uitvoer na Europa. 



 Platinaprobleme
 
Die onrus in Marikana het die platina prys met meer as 5% vir die week laat styg. Dit het die prys bo die dalende wig patroon laat uitstyg en dit skep ‘n vooruitsig van platina teen $1600 /oz.


Platina aandele wys nog nie dieselfde stygings nie. AngloAmerican Platinum het Vrydag’n verdere -2.85% gedaal. Vir die week daal AMS in totaal -4.39%. Die metaal reageer dus vinniger as die mynaandele.


 Nog 'n interesante 'vlag' patroon
 
Supergroup (GB:SGP) wat op die FTSE genoteer is, verkoop modeklere wat baie gesog is, oa die handelsname ‘Superdry’ en ‘Cult’. Die bestuur van hierdie maatskappy het baie talent, maar nie in die finansiële veld nie. (Hoe anders kan ek dit stel as ‘n maatskappy optelfoute in sy syfers maak.)
Die mark is onverbiddelik en SPG het dadelik met 40% gedaal toe dit bekend word in April 2012.
Die grafiek het nou ‘n ‘koppie’vorm gemaak en die ‘oor’ van die ‘koppie’ is ‘n vlagpaal met ‘n plat driehoek vlag. Dit lyk asof daar stygings oppad is, veral as in ag geneem word dat Britanje en Amerika se kleinhandelverkope vir Julie gestyg het. Maar SGP se prys beweeg sywaarts uit die vlag. Die beleggers voel nog onseker. Ek hou dop om die uitkoms te sien.


 
‘n Week met opwinding en teleurstelling lê voor en beide sal hul spoor in die mark maak.
 Daar's verseker nie beter vermaak nie!

 17 Augustus 2012

Wednesday 15 August 2012

 
Week van 10 Augustus 2012
Die vraag waarmee ek hierdie week geworstel het is: Wat dryf die markte en bepaal dus die oorheersende rigting? Gaan alles daal en ‘n nuwe laagtepunt bereik omdat ekonomiese groei die afgelope kwartale halfhartig of negatief was en die probleme in Amerika, Europa en Sjiena so oorweldigend lyk, of is daar êrens iets wat ek misgekyk het wat die dryfwerk doen.

Ek het al opgemerk  dat die landbouprodukte wat ek dophou gewoonlik almal breedweg in dieselfde rigting beweeg. Toe die Verenigde Volke se Voedsel and Landbouprodukte Voedselpryse Indeks bekend gemaak word, het ek weer na hierdie indeks gekyk.

 

Die indeks bereik ‘n hoogtepunt in Mei 2008 (1), en ‘n laagtepunt in Februarie 2009(2).
Begin styg en bereik ‘n hoogtepunt in Januarie 2010 (3) en daal tot Junie 2010 (4).
Toe styg die pryse en bereik ‘n nuwe hoogtepunt in Maart 2011(5) begin daal, maar maak ‘n halfharige styging tot Desember 2011(6), net om weer die daling voort te sit tot Junie 2012(7).    
In Junie 2012 draai hierdie indeks weer positief.
Die keerpunte lyk vir my bekend! Sedert Junie het koring en mielies in Amerika met 50% gestyg.

Ek het ‘n vorige keer geskryf dat die Amerikaners en Ukrainieërs hul vooruitskattings van hul mielie en koring oeste verlaag het omdat hulle droogtes ervaar. Amerika het Vrydag weer hul oesopbrengs vooruitskatting verlaag na 123.4 vanaf 137.2 gerwe per akker. Verwag verdere prysstygings met ‘n gapaardgaarde reaksie regdeur alle ekonomië.

Toe trek ek ‘n grafiek van die DOW se maandelikse sluitingsprys en die Voedselindeks. Ongelukkig net sedert Mei 2008, maar dis genoeg.



Hier het ek die keerpunte ingevul:

 

Ander indekse wat ook op stygings dui:

Die opbrengskoers vir Amerikaanse  10 jaar skatkiswissels. Wanneer hierdie koers styg, word wissels verkoop en dit lyk my dat hierdie geld dan na aandele beweeg omdat stygings van die opbrengskoers met stygings in die DOW saamval.





Die Euro/Dollar
Mario Draghi het diegene wat teen die euro wil spekuleer (soos George Soros met die pond gedoen het) gewaarsku:
"all speculators who think that they can speculate against the euro: My dear friends, be careful, there's somebody in the background who may join the game and his pockets are deeper than your pockets."
Hier kyk ek of die euro sal versterk totdat $1.30 oor die volgende paar weke. 
 
Omdat die euro ‘n belangrike deel is van die mandjie geldeenhede wat die dollar prys bepaal, verwag ek dat die dollar sal daal. Die dollar grafiek het ‘n baie duidelike onderstebo kop-en-skouer patroon gevorm met ‘n neklyn by 81.35, wat gedui het op ‘n styging tot 90. Hierdie patroon lyk nou asof dit nie voltooi sal word nie en die dollar sal daal terug na 72.00.
 
Dit beteken dat Brentolie, Sasol en BP ook nou verder sal styg en nie verder sal daal nie.
Die belangrike punte om dop te hou is:
Amerikaanse 10jaar wissel opbrengskoers  : 2.38 vir verdere styging.
Euro / Dollar  :  1.30 vir verdere styging.
Dollar : 78.00 vir verdere daling.

Ek hou sedert Feb ook die LIBOR koers dop. Dit is nie ‘n opwindende indeks om dop te hou nie en veral ook omdat ons nou weet van die manipulasie, nogtans. Hierdie indeks het tot 6% gestyg tydens 2008. Nadat die Europese Sentrale Bank met hul LTRO lenings begin het, het hierdie koers gedaaal en min beweging getoon sedert April. Sedert 19 Junie daal hierdie koers. (.20 beteken dat banke goed funksioneer) Op Bloomberg se webblad is ‘n grafiek van hierdie indeks vir 5 jaar. 
 
Indekse wat nog steeds dalings aandui:

Die Baltiese Droeë indeks:
 
Hierdie indeks se waarde is op die oomblik twyfelagtig omdat skepe oorvoorsien is en ouer skepe nie geskroot word nie omdat die staalprys te laag is.

Is koper op die bodem?
 
Hier is koper en die DOW.  Koper was die onderpresteerder sedert Desember 2011.
 
My vrese dat deflasie al die ekonomië se voorland is, het verander in ‘n vooruitsig van inflasie deur die droogtetoestande in Amerika en Oos Europa en die Sentrale Banke wat prysbalans gaan probeer handhaaf.

12 Augustus 2012