Monday 17 September 2012

Effekte en die Opbrengskoers

Week van 14 September 2012

Effekte en die Opbrengskoers

Verdere ondersteuning vir die Amerikaanse ekonomie het hierdie week gekom met die aankondiging dat die Federale Reserwe maandeliks $40bn se verband gesteunde effekte gaan koop. In afwagting van die aankondiging het die dollar reeds begin verswak en die DOW begin styg. Die afgelope jaar is Amerikaanse staatseffekte met geesdrif gekoop omdat geglo word dat die risiko daar minder is as met beleggings elders in die ekonomie. 'n Laer opbrengs gaan met 'n vermindering in risiko gepaard. Die opbrengskoers van 10 jaar effekte het in Julie 'n laagtepunt van 1.40% bereik en noudat geld uit staatseffekte beweeg, styg die koers en sluit Vrydag op 1.86%.


Van die geld wat uit staatseffekte beweeg gaan na die DOW. Op my grafiek het die DOW 'n onderstebo kop-en-skouer patroon gevorm wat op 'n styging na 14400 wys, natuurlik, indien daar nie iets onvoorsiens gebeur nie.


Inflasie, Goud en Platina

Inflasie verwagtinge het verhoog en vir beskerming daarteen beweeg geld na goud en ook platina. Ek het goud en platina se grafieke vanaf Augustus 2009 saamgesit om vergelyking makliker te maak. Goud sluit Vrydag oop 1770, 'n styging van 10% sedert die begin van Augustus en platina sluit op 1701, 'n styging van 22% oor dieselfde tyd.


Het platina sy hupstoot sedert Augustus gekry ten spyte van die stakings, of het die stakings bygedra? Om 'n antwoord te probeer kry het ek Impala Platinum se grafiek saam met die van platina gesit en die negatiewe effek van die stakings is duidelik. Die ander platinamyne se grafieke wys dieselfde patroon.


Verswakking van die dollar beteken 'n verhoging in die pryse van grondstowwe en olie. 'n Hoë olieprys is negatief vir ekonomiese groei en sou in ag geneem gewees het met die besluit van die Federale Reserwe. Amerika het groot voorrade olie en produseer self genoeg om 'n prysstyging se negatiewe effek teen te werk. Amerika lyk gereed vir ekonomiese groei en verhoogde indiensneming.

Koper, Goud en die Opbrengskoers

Koper, aluminium, lood en niekel se pryse styg terwyl die dollar verswak. Aluminium was die voorloper met 'n styging verlede week van 9.51% en koper het die agterhoede gevorm met 'n styging van 7%. Die prys van koper word gesien as aanduier van ekonomiese aktiwiteit, maar as die prysstyging beinvloed word deur dollar beweging, sou koper hier nogtans as voorspeller optree? Goud bied beskerming teen inflasie. Hier het ek goud en koper saamgesit en beide styg sedert Augustus.



Om te sien watter een vaar die beste, koper, as voorspeller van ekonomiese aktiwiteit of goud, as beskermer teen inflasie, het ek die prys van koper deur die van goud gedeel. Die verhouding tussen koper en goud lyk so:



Vanaf Januarie 2011 tot Oktober 2011 het koper in vergelyking met goud aansienlik gedaal, toe begin styg, maar daal weer sedert Maart 2012. Optimisme ten opsigte van ekonomiese aktiwiteit lyk asof dit nou weer begin toeneem. En sou bevestig word as die opbrengskoers van staatseffekte ook verder styg.
Hier het ek die koper/goud verhouding (oranje lyn) en die 10 jaar staatseffekte opbrengskoers (blou lyn) saamgesit. 'n Stygende opbrengskoers lyn dui op inflasie en 'n stygende koper/goud lyn op verhoogde ekonomiese aktiwiteit.



Grondstowwe

Die verwagting van verhoogde ekonomiese aktiwiteit en die gepaardgaande verhoogde vraag na grondstowwe kan in die beweging van die JSE indekse gesien word. Die JSE alle aandele indeks het hierdie week met 2.25% gestyg. Die JSE hulpbronaandele indeks het uitgetroon met 'n styging van 6.63%. Dit lyk soos bevestiging van die verwagtinge van verhoogde ekonomiese aktiwiteit.


Om nou in aandele belê te wees, is om aan die 'regte' kant van die beleggingsveld te staan.

No comments:

Post a Comment