Monday 3 September 2012

Wanbalans in Vraag en Aanbod

Week van 31 Augustus

Wanbalans in Vraag en aanbod

Aan die hoë verwagtings vir AngloGold (ANG) en Exxaro (EXX) is nie voldoen nie. AngloGold daal sedert 20 Augustus met 9% en Exxaro met 16%. Kumba Iron Ore (KIO) het ook die afgelope twee weke met 11% gedaal. Steenkool en ysterertspryse het nog nie 'n bodem bereik nie; hul dalings versnel (20% die afgelope 3 weke) en daarmee saam Exxaro en Kumba se pryse. Ystererts en steenkool produsente het almal ingespring om aan die 'groot' vraag na grondstowwe in Sjiena te voldoen en nou kwyn die vraag. Vele artikels verwys na Sjiena se huidige wankelende vraag na ystererts en die probleem blyk in hul staal industrie gesetel te wees. Om vir laer staalpryse te vergoed word produksie verhoog en om koste te besnoei word ystererts en steenkool voorrade by die staalwerke verlaag wat lei tot 'n verhoging van ystererts en steenkoolhope by hawens. Vroeër of later sal iets êrens meegee. Natuurlik het staalvervaardigers lenings by Sjienese banke wat terugbetaal moet word en so kom die banke ook onder druk. Hierdie toestand wys in die voorgesette daling van die Shanghaise Saamgestelde Indeks.


Die Sjienese se pogings om 'n 'sagte' landing vir hul ekonomie te bewerkstellig - 'n groeikoers van 7 - 8% in plaas van 10 - 12% - het die effek van 'n 'harde' landing vir SA grondstofaandele.

Ystererts en Steenkool


In Kumba Iron Ore se maandelikse kersgrafiek beweeg die kerse nou buite die stygende kanaal.


'n Kumba (KIO) maandelikse lyngrafiek saam met die prys van ystererts wys hoe die twee pryse van mekaar weggetrek het. Verwag maar dat hulle weer nader aan mekaar sal beweeg.


Steenkool se wankelende vooruitsig ten opsigte van kookssteenkool vir gebruik in staalvervaardiging is nie die enigste probleem vir steenkoolprodusente nie. Die verhoogde skaliegas produksie in Amerika het die gasprys daar laat daal tot waar kragstasies begin het om deels van gas gebruik te maak vir kragopwekking. Die Amerikaanse steenkoolprodusente het markte buite Amerika begin soek. Boonop staan die Brasiliaanse maatskappy, Vale, gereed met produksie by hulle steenkoolmyn in Moatze in Mosambiek en dieselfde met Riversdale Mining (waarvan Tata Staal 'n deel besit) se steenkoolmyn in Mosambiek se Tete provinsie. Die kompetiese vir Exxaro se uitvoer steenkool is fel en dit kan in die dalende prys gesien word.


 Die goudprys en goudmynaandele

Ten spyte van stygings in die goudprys het goudmynaandele in SA gedaal. Ek het na Goldcorp en Barrick Gold (Kanada se beurs) se grafieke gekyk en alhoewel hulle soos AngloGold in Mei en Julie hierdie jaar laastepunte bereik het, het hulle nie die afgelope week gedaal nie, inteendeel, hulle styg. Sou die berigte dat onrus soos die by Marikana na SA goudmyne kan versprei 'n rol speel? Hier is my grafiek met die teleurstellende daling die afgelope week.


'n Interesante Grafiek

Die grafiek van Supergroup (GB:SGP) (waaroor ek op 17 Augustus geskryf het), het wel aan die verwagte styging voldoen. Supergroup beplan om op 10 September 'n finansiële verslag bekend te maak en die aandeelhouers staan gereed by die weerstandslyn van 502p. Verdere stygings of dalings hang van die verslag af.


Die Prys van Mielies

Die mielieprys in Amerika is gereed om terug te sak. 'n Dalende mielieprys kan die druk op wêreld voedselpryse verlig. Wat sou 'n prysdaling ondersteun, ten spyte van die droogtes?


Die aanbod van mielies vir voedselverbruik kan verhoog as die Amerikaners die hoeveelheid mielies wat vir brandstof produsering opsygesit word verlaag. Dit beteken laer mieliepryse. Maar sal minder hernubare olie tot gevolg hê wat brandstofpryse kan verhoog. Die Amerikaners en Britte het onlangs by die International Energy Agency (IEA) aansoek gedoen om van hul reserwe olievoorrade vry te stel. Meer beskikbare olie; laer pryse. Siedaar, die balans is herstel. As dit tog maar net so maklik was!

Dink fyn en hou balans.

No comments:

Post a Comment