Monday 10 September 2012

Sentrale Bank Ondersteuning en Olie

7 September 2012

Sentrale Bank Ondersteuning en Olie

Sentrale Banke, Sjienese Ekonomie Beplanners en die ALSI


Die Europese Sentrale Bank se Mario Draghi het hierdie week die Regstreekse Monetêre Transaksie (Outright Monetary Transactions) program aangekondig wat saam met die Europese Finansiële Stabiliteits Fasiliteit (EFSF) en Europese Stabiliteits Meganisme (ESM) ondersteuning gee aan regerings met 'n groot skuldlas. Die markte het positief gereageer. Goud ook, en die dollar daal tot onder die 200 dae bewegende gemiddeld.



Die Amerikaners was teleurgesteld toe bekend gemaak is dat hulle die afgelope maand slegs 96,000 nuwe werksposisies (landbou uitgesluit) geskep het, terwyl 125,000 verwag is. Minder mense wat kan koop is nie 'n toestand waarna die Amerikaners streef nie en hulle oë is nou op Ben Bernanke om te ondersteun. Sy spreekbeurt is Donderdag, die 13de September.
Die DOW het hierdie jaar telkens by 13,275 gekom en teruggedraai en sluit Vrydag by 13,306, net sowat 700 punt kort van die Oktober 2007  hoogtepunt van 14,000.


Die JSE Alsi het in Januarie 2012 sy vorige hoogtepunt van 33,400 (bereik in Mei 2008) verbygegaan en maak nuwe hoogtepunte sedert Julie. Dit was die moeite werd om sedert 2009 in die JSE belê te wees. Vanaf die laagtepunt in Februarie 2009 'n styging van 97%.



Die hulpbronaandele het aanvanklik goed gevaar en styg 42% tussen Februarie 2009 en Februarie 2011; sedertdien 'n daling van 18%. In die kleiner wordende driehoek op my grafiek, is 45,000 en 53,500 van belang. 'n Daling onder 45,000 sal op verdere dalings dui en 'n styging bo 53,500 op verdere stygings.


Sjiena se verswakte vraag na grondstowwe het bygedra by tot dalings in die hulpbronaandeel pryse. Hierdie week het die ekonomie beplanners van Sjiena nuwe infrastruktuur projekte ter waarde van 1triljoen Yuan ($157bn) aangekondig. Hulle beplan onder andere 25 stedelike spoornetwerke, 13 hoofweë, hawens, lughawens, waterwerke, ens. Dit het die aandele van steenkool, ystererts en staalvervaardigers laat styg - miskien net 'n paar kortverkopers uitgeskud? Die Russiese staalvervaardiger, Evraz, wat op die Londonse Beurs genoteer is, het Vrydag met 14.87% gestyg. Al die projekte is nogal iets om oor te dink, veral as in ag geneem word dat die Britte nou al vir jare besig is om die bou van een spoorlyn en die bou van een ekstra aanloopbaan by Heathrow te debateer, soms nogal onhoflik, en 'n besluit word nie binne die volgende paar jaar verwag nie.
Die beplanners se aankondiging het die Sjanhaise Saamgestelde Indeks 'n hupstoot van 3.92% gegee en verdere stygings lyk moontlik.


Die Sjienese se behoefte aan grondstowwe is nog nie uitgeput nie. In 1990 was 26% van hul bevolking verstedelik en van die huidige 1,3 biljoen woon 51% nou in stede. Die verwagting is 'n verhoging tot 70% in 2035. Van Amerika se bevolking van 331,5 miljoen is 75% verstedelik, (volgens Wikipedia).

Kumba IO


Kumba Iron Ore (KIO) se prys het verlede week met 11.76% gedaal en hierdie week met 3.75% gestyg. Die daling het nie met 'n gelyke daling in volume gepaard gegaan nie. Ek het 'n grafiek getrek van die volume balans deur elke dag se volume by die vorige te tel, indien die prys gestyg het; af te trek, indien die prys gedaal het; en as die prys dieselfde as die vorige dag was, het ek nul by die vorige dag se volume getel. Die dalende prys en stygende volume is opvallend.



Volgens Kumba se verslag van Junie 2012 het hul produksiekoste gestyg van R150/t in 2011 tot R180/t in 2012. Die gemiddelde wisselkoers vir 1H 2012 was R7.93 - in dollars is die koste dan $22.70/t - en hulle het ystererts verkoop teen 'n gemiddelde prys van $142/t. Met 'n swakker Rand, soos die onlangse verswakking tot R8.4/$, sal KIO se dollarkoste laer wees en sy Rand inkomste hoër.  Die verslag noem dat hulle nie verwag dat die prys van ystererts veel laer as $130/t sal daal nie. Vergelyk die prys van $91.50/t waarteen Vale hierdie week 'n vrag ystererts in Sjiena verkoop het, (volgens reuters se webblad). Staan Sjiena gereed om te koop soos toe die pryse so laag was in 2009?

Olie

Met die orkaan 'Isaac' se tog deur die Meksikaanse Golf is werk op die oliebore daar gestaak en die prys van olie het min hierop gereageer. Hoekom?


Die vraag na olie in Amerika is 22% van die totale wêreldvraag. Hulle het uit eie bronne aan 83% van hul vraag hierdie jaar voldoen en het die vooruitsig om teen volgende jaar selfvoorsienend te wees. Hul olievoorrade is hoog. 'n Amerika wat selfvoorsienend is in olie en genoeg aardgas en steenkool het, kan energievoorsiening wêreldwyd beinvloed.

Hier is my maandelikse grafiek van Sasol. Solank die prys bo 33800 is, is die vooruitsig positief.


Ek hou hierdie verwikkelinge met belangstelling dop.

No comments:

Post a Comment