Sunday 16 December 2012

16 Desember 2012

Die Aankope Gaan Voort

Die Amerikaanse Federale Reserwe het Woensdag aangekondig dat 'Operation Twist' vervang gaan word met aankope van $45 biljoen se langertermyn staatseffekte per maand. Terselfdertyd gaan hulle voort met die aankoop van $40 biljoen se verband gesteunde sekuriteite soos in September aangekondig.  Die doel is om rentekoerse laag te hou, ekonomiese groei aan te moedig en so Amerikaanse werkloosheid te verminder.

Teen Vrydag was die volgende dollar en wisselkoers vooruitsigte opvallend:

Die EUR/USD styg by 1.3120 verby en verdere verswakking van die dollar, tot 1.3800, is nou in die vooruitsig.


Die Rand wat sedert Oktober aansienlik teenoor die dollar verswak het, het gedraai en lyk sterker, oppad na R8.50 vir 'n dollar.


Die Yen wat die afgelope jare voortdurend teenoor die dollar versterk het ten spyte van die Bank van Japan se pogings om 'n swakker Yen te bewerkstellig, het verder verswak en verhandel Vrydag teen Y83.52 vir 'n dollar, 8% bo September 2012 se laagtepunt soos in die maandelikse kersgrafiek gesien kan word.




Die Dollar Indeks wat die dollar teen ‘n mandjie geldeenhede (Euro, Pond Sterling, Yen, Kanadese Dollar, Sweedse Krona en Switserse Frank) meet, is by ‘n keerpunt. ‘n Beweging hoër as 79.56 het ‘n goeie kans vir verdere styging en ‘n beweging laer een vir verdere daling. 


Met 'n swakker dollar kan hoër kommoditeits pryse en aandeelpryse verwag word. En 'n hoër goudprys. Hierdie is prysstygings as gevolg van dollar swakte en nie as gevolg van 'n verandering in vraag en aanbod nie.


Tuesday 11 December 2012


Met Die Einde Van Die Dans

 Dinsdag, 11 Desember 2012

Die Amerikaanse FOMC (Federal Open Market Committee) het verledejaar, na hul tweede kwantitatiewe verslappingsprogram voltooi is, aangekondig dat die Amerikaanse ekonomie verder ondersteun gaan word deur die verkoop van korttermyn effekte en die aankoop van langtermyn effekte. Na hierdie program, wat sedert Oktober 2011 geimplimenteer word, word verwys as 'Operation Twist' omdat die program ten doel gehad het om leenkoste te verlaag deur die lang- en korttermyn opbrengskoerse te 'draai', oftewel, te 'twist'. Amptelik is die program die 'Maturity Extension Program' genoem. Aanvanklik sou die program teen Junie 2012 ten einde loop, maar is verleng tot Desember 2012.

 Nou's ons amper daar.

'n Grafiek van die DOW en die opbrengskoers van Amerikaanse 10jaar effekte (bonds) dui die effek van die program duidelik.


Die Dow en 10jaar opbrengskoers hou gewoonlik in dieselfde rigting, maar hul paaie skei met die aanvang van 'Operation Twist'. Terwyl die DOW styg, beweeg die opbrengskoers sywaarts, of daal. Met voltooing van die program sal die opbrengskoers vinnig styg en die prys van effekte (bonds) daal om weer die vorige balans met die DOW te herstel.

 'Operation Twist' het ook die beweging van die dollar, goud en alles wat daarmee saam beweeg beinvloed.

Op hierdie grafiek het ek die DOW en die dollar saamgesit om die verskil in die beweging van die dollar teenoor die DOW tydens die kwantitatiewe verslappingsprogramme, of, QE, en 'Operation Twist' aan te dui. Tydens die QE programme het die dollar en die DOW in teenoorstaande rigtings beweeg, dws, die dollar het verswak terwyl die DOW gestyg het, en tydens 'Operation Twist' beweeg hulle in dieselfde rigting; stimulering vind plaas sonder dollar verswakking.


Wanneer die dollar in 'n grafiek saam met goud gesit word, daal die dollar terwyl goud styg tydens die QE programme. Die posisies is omgekeerd tydens 'Operation Twist' en goud kry 'n dalende tendens terwyl die dollar styg.


Uit hierdie grafieke lei ek af dat die voltooing van 'Operation Twist' opbrengskoerse aansielik sal laat styg (met gepaardgaande dalende effektepryse) en verhoogde leenkostes (rentekoerse op verbande, lenings, ens). Juis dit wat deur die program 'laag' gehou is om die Amerikaanse ekonomie te stimuleer.

Môre, die 12de Desember gaan Ben Bernanke, die voorsitter van die FOMC, 'n verklarinig maak. Daar word verwag dat voortgegaan sal word met die aankoop van langertermyn effekte maar die verkoop van korttermyn effekte, wat die langertermynaankope befonds het, gestaak sal word. Dit kan tot stygings van die goudprys (en metaalprys, ens) lei en 'n gepaardgaande daling van die dollar.

Al sou die dans verby wees, die musiek duur voort.



Monday 19 November 2012

Die Verhouding tussen Prys en Verdienste

Die prys van 'n aandeel in 'n maatskappy, gedeel deur die verdienste per aandeel gee die verhouding tussen prys en verdienste, die P/V (prys-verdienste). Hierdie syfer stel die belegger in staat om verskillende beleggings te vergelyk en die mark se oor- of onderwaardering van die belegging te sien.

As voorbeeld:
BHP Billiton se sluitingsprys op 15 November 2012 was 26957c en die verdienste per aandeel (soos in hul finansiële staat van Junie 2012) was 2628.59c. Dit gee 'n P/V van 10.25.

      26957 ÷ 2628.59 = 10.25

'n Verdienste van 2628.59c vir tien en 'n kwart jaar is ekwivalent aan die huidige prys van BHP Billiton.

Om te sien hoe prys en verdienste rigting hou, het ek BHP Billiton se verdienste (op die regterkant se as) en prys aan die einde van die frinansiële periode (op die linkerkant se as) op een grafiek saam gesit.


Naspers se sluitingsprys op 16 November 2012 was 54400c en die verdienste per aandeel (Maart 2012 finansiële verslag) was 1297c. Dit gee 'n P/V van 41.94.

Saamgesit in 'n grafiek loop Naspers se verdienste (op die regterkant se as) en prys aan die einde van die periode (op die linkerkant se as) as volg:



BHP Billiton, 'n gediversifiseerde grondstof produsent, met 'n P/V van 10.25 kan met Naspers, wat, onder andere, betaaltelevisie bedryf en 'n P/V van 41.94 het, vergelyk word. Naspers se P/V is aansienlik hoër as die van BHP Billiton. Hiervolgens het beleggers hoër verwagtings van Naspers se toekomstige verdienste as van Billiton s'n. Vanuit die oogpunt van 'n voornemende belegger kan Naspers as 'duur' beskou word en Billiton as 'n 'waarde' aandeel - een met 'n laer prys.

Wanneer 'n maatskappy se aandele 'n besonders lae P/V het, dui dit daarop dat beleggers min groei verwag en nie optimisties is dat die prys aansienlik sal styg nie.

Vegelyk Reinet wat op 16 November op 1588c gesluit het, 'n verdienste (Maart 2012 finansiële verslag) van 451c per aandeel het en dus 'n P/V van 3.51.



Met die formule wat die P/V bepaal kan ander beleggings ook vergelyk word, bv: Kontant wat teen 'n opbrengs van 9.5% belê word, gee 'n P/V van 10.52, wanneer 100 deur 9.5 gedeel word.

Die prys-verdienste verhouding is van hulp wanneer verskillende beleggings vergelyk word en een apek waarna gekyk kan word wanneer 'n belegging oorweeg word. 'n Suksesvolle beleggings keuse word gemaak wanneer in 'n maatskappy belê word wat, na deeglike ondersoek, blyk groei potensiaal te hê, maar nog nie deur die mark na waarde geskat word nie. Anders gestel: 'n belegging in 'n maatskappy met goeie waarde teen 'n lae prys.   

Week van 16 November 2012

Vooruitskouend en Terugskouend

Agter die rug: Amerikaanse presidensiële verkiesing en Sjienese aanstelling van nuwe leiers.
Voor in die pad: Amerikaners wat 'n plan moet maak vir regeringsbesparings en belasting verhogings voor die einde van hierdie jaar. Europa se voortslepende worsteling met hul skuld. Sjiena wat staal oorproduksie, nie betalende banklenings, geboue sonder huurders en nou ook verswakkende klerebedryf uitvoere sal moet aanspreek saam met ekonomiese herbalansering.

Ekonomiese bedrywighede wêreldwyd is besig om voort te beur en is 'n voortdurende proses van probleem hantering. Daar is nie 'n uiteindelike oplossing wat alles seepglad sal laat verloop en 'n utopia tot stand sal bring nie. Elke dag dra by: vooruitskouing skep verwagtings en terugskouing bring hopelik groter insig.

Op die 2de November het die JSE Alsi op 'n hoogtepunt van 37,664 gesluit, op die 6de November 'n vinnige draai by 37,749 gemaak en nou weer gedaal om vrydag die 16de op 36,818 te sluit.


Daar is ondersteuning by 36,620 en die 50 dae bewegende gemiddeld.

Hou die Amerikaners ingedagte. Die eerste aankope van die $40 biljoen per maand se verband gesteunde sekuriteite wat in September deur Ben Bernanke aangekondig is, se effek kan dalk binnekort gesien word.

Die toekoms is nie uitsigloos nie, ten spyte van die nuusopskrifte, en wanneer die markte daal, kyk gerus fyn of die aandele waarin jy belangstel nie dalk nou 'n moontlike winskoop is nie.

Friday 2 November 2012

Tot Einde Oktober 2012

Goeie Vooruitsig vir 'n Paar Aandele

Hier is 'n klompie aandeelgrafieke met hoopvolle dophoupunte wat ek raaksien en goeie vooruitsigte.

Hosken Consolidated Investments (HCI)

Hosken Consolidated Investments (HCI) het sy beleggings gedurende September 2012 geherstruktureer deur Vukani Gaming, HCI Bingo, HCI KWV en Formex saam te sit in Niveus Investments. In die middel van September is Niveus Investments op die JSE genoteer.

Die afgelope drie jaar beweeg HCI se prys sywaarts en die ontbondeling se effek begin nou wys in die stygende prys. (Die pryse is in ZARc.) 'n Daling terug na 8800, sal negatief wees.


Die maandelikse kersgrafiek toon die belangrikheid van 8800.

 
HCI se September 2012 tussentydseverslag gaan op 16 November 2012 bekend gemaak word. Om 'n oorsig van HCI se syfers te kry het ek 'n paar saamgesit en 'n grafiek getrek. Die verdienste per aandeel (blou) en dividend per aandeel (rooi) gebruik die regterkant se as. Die netto batewaarde per aandeel (groen) en prys, aan die einde van die periode, (pers) die linkerkant se as.


En die syfers:

Niveus Investments (NIV)

Niveus Investments het ingeval teen 2000 en gedaal tot 789, vanwaar my grafiek begin en die verloop tot die 30ste Okotober se sluitingsprys van 1100 wys.


ILLOVO (ILV)

Illovo (ILV) se prys styg sedert Meimaand.


Ek verwag 'n goeie resultaat wanneer die September 2012 tussentydse verslag op 23 November bekend gemaak word. Illovo Sugar (Malawi) Ltd en Zambia Sugar Plc (filiale van ILV) het hul resultate 'n paar dae gelede bekend gemaak en hul verdienste per aandeel het onderskeidelik met 137% en 9% gestyg as dit vergelyk word met dieselfde ses maande van 2011.

ILV se daaglikse kersgrafiek sedert Augustus 2012:


Die punt wat ek dophou vir Illovo is 3400 soos op die maandelikse kersgrafiek. As ILV daar verbygaan voorsien die patroon wat deur die kerse gevorm is 'n styging gelykstaande aan die hoogte van die 'koppie' wat gevorm het oor die afgelope drie jaar.


'n Grafiek van Illovo se verdienste per aandeel (blou), dividend per aandeel (rooi) op die regterkant se as en die netto batewaarde (groen) en einde van die periode prys (pers) op die linkerkant se as.


En die syfers wat ek vir die grafiek gebruik het:


'n Bietjie soetigheid van Illovo, 'n busrit, 'n glasie wyn en 'n kans om dobbelstene te gooi kan troos bied op die Groot Resessie se pad na beter tye.

Tuesday 23 October 2012

Week van 19 Oktober 2012

Wankelend Vorentoe

Onsekerheid aangeblaas deur media spekulasie oor markdalings soos die 'val' in 1987 en die markdalings vrydag, laat vrees die botoon voer. Pure vreesmousery.  Een van die 'tekens' dat 'n aansienlike daling in aandeelmarkte voor die deur is, is onblusbare optimisme. Ek verwag dus dat die markte al wankelend vorentoe sal beweeg, en die volgende 'groot' daling is nog nie op hande nie.

Die Dollar, Olie en Koper

Die dollar beweeg hoofsaaklik laer sedert Augustus en dit lyk asof hy nou vir 'n tyd weer sal styg. Stygings in die dollar gaan soms gepaard met 'n daling in die prys van olie. Hier het ek olie en die dollar saamgesit, maar

 om die verband tussen die twee duideliker te sien, het ek in die volgende grafiek die dollar indeks se as omgekeer.


Op die langertermyn is daar veranderinge ten opsigte van die vraag na olie op die wêreld  mark op pad. Amerika het met hul nuwe 'fracking' metodes begin om 'n oorvloediglike hoeveelheid skaliegas te produseer en daarmee saam ook olie. BP het verlede week toestemming gekry om Amerikaanse olie na Kanada te vervoer en Shell het aansoek gedoen vir 'n olie uitvoerlisensie. Citygroup se Ed Morse verklaar: 'By 2018, the US will have no place for crude oil imports.'
Ek wonder of hierdie uitspraak gemaak is met die veronderstelling dat die Amerikaners se ekonomie op 'n gelyk vlak gaan aanskuif tot 2018. Wat sal gebeur as hulle ekonomie gouer weer begin groei?


 Die dollar beweeg sedert die begin van die jaar nou saam met die prys van koper. Hier het ek weer die as van die dollar indeks omgedraai om die twee te vergelyk. Dus, indien die dollar styg is 'n daling in die prys van koper moontlik.



Daar is egter positiewe tekens in die pryse van grondstofaandele wat my laat dink dat die dalings van korte duur kan wees.

Die Baltiese Droeë Indeks het gedraai en styg in Oktober tot dusver met 32%.


BHP Billiton,'n grondstof aandeel wat ook die draai gemaak het en hierdie week by die keerpunt, 273000 verby gestyg het. Die 50 dae bewegende gemiddelde lyn (geel) is nou in 'n positiewe verhouding met die lyn (groen) van die 200 dae bewegende gemiddeld.


Op die maandelikse kersgrafiek vir BHP Billiton sedert 2008 beweeg die prys na die punt van 'n nouer wordende driehoek. Dit kan nog 'n aantal maande duur voordat die prys uit die driehoek beweeg, maar 'n groot beweging, gewoonlik die hoogte van die breedste kan van die driehoek is dan moontlik.


Hier het ek 'n lyngrafiek getrek van BHP Billiton se verdienste per aandeel, dividend per aandeel (regterkant se as), prys en netto bate waarde (linkerkant se as).

Die syfers wat ek gebruik het:

Sjiena se BBP van 7.4% is woensdag bekend gemaak. Hulle groei is van wesentlike belang vir grondstofaandele. Die Shanghaise Saamgestelde Indeks styg die afgelope maand en 2200 begin al lyk soos 'n gawe vooruitsig.



Veiligheid in Regeringsskuld

In tye van onsekerheid beweeg beleggers uit aandele na regeringsskuld en koop staatseffekte. 'n Styging in die prys van effekte laat die opbrengskoers daal. Net voor die val van die Amerikaanse markte in 1987 was die toekomstige verdienste van die S&P $22.45 en die toekomstige opbrengs 7.0%, terwyl die opbrengskoers van 10jaar staatseffekte 9.42% was. Huidiglik is die toekomstige verdienste van die S&P $108 en die opbrengskoers 7.6%, terwyl die opbrengskoers van 10jaar staatseffekte  1.77% is. In 1987 was die oorwig van geld in aandele, en toe kom die val. Nou is dit andersom, met die oorwig in staatseffekte wat dit laat lyk asof 'n styging in aandele wanneer geld uit staatseffekte beweeg, meer waarskynlik is as 'n daling van 20% of meer.

Hier is my grafiek  van die Amerikaanse 10jaar staatseffekte opbrengskoers. En ek wonder, wat sou dit wees wat beleggers nou al so lank tevrede hou met 'n opbrengs wat laer is as die inflasiekoers.



Indekse

Die weeklikse kersgrafiek van die JSE Alsi het die afgelope tyd 'n stygende wig gevorm en dit lyk nou asof die nuwe hoogtepunt wat hierdie week bereik is, nie gou verbygegaan sal word nie.


Die grondstofaandele is volgens die maandelikse kersgrafiek besig om in die punt van 'n driehoek wat die afgelope vier jaar gevorm het, te beweeg. 'n Beweging uit die driehoek kan beteken dat die indeks 'n hoeveelheid gelykstaande aan die van die breedste kant van die driehoek beweeg. Na bo lyk die waarskynlikste, maar na onder moet ook oorweeg word.


Die Fin 15 se maandelikse kerse beweeg in 'n stygende kanaal.


Dieselfde patroon is te sien by aandele soos Liberty Holdings:



En 'n soortgelyke patroon in die Industriële Indeks:


Slotsom

Al wankelend beweeg ons tog vorentoe. Die vooruitsig dat dit in die Eurosone beter begin gaan sal binnekort plek maak vir kommer oor Amerika se fiskale 'afgrond', wat natuurlik wanneer dit opgeklaar is, sal plek maak vir 'iets anders'. Ons probeer by al die ontwikkelinnge byhou!

Monday 8 October 2012

Week van 5 Oktober 2012

Derde Kwartaal Verwagtings


Oktober word in die aandelemarkte wêreld nie as die 'mooiste, mooiste' maand beskou nie maar as die maand waarin katastrofes plaasvind in die vorm van onverwagte vinnige groot dalings in aandeelpryse. Dit gebeur selde en beslis nie elke Oktober nie.

Maatskappy verdienstes is nou onder die soeklig omdat Alcoa volgende week Dindag sy finansiële verslag vir die kwartaal bekend maak en marksentiment sal bepaal. Die media is vol artikels wat verklaar dat metaalpryse daal en die diepste donkertes vir kommoditeits produsente voorlê. Wanneer pryse daal is die voorspellings gewoonlik dat daar verdere dalings gaan wees en wanneer die pryse styg word verdere stygings as 'n uitgemaakte saak voorspel.

As ek na die pryse van metale kyk sien ek: Die prys van aluminium daal sedert April 2011, bereik 'n laagtepunt in Augustus en styg sedertdien. Koper, lood, niekel en sink se pryse volg soorgelyke patrone.


Hierdie patroon is ook te sien by kommoditeits aandele, soos BHP Billiton wat sedert Junie styg en Vrydag net voor die keerlyn by 27300 gesluit het. As BHP Billiton bo 27300 styg, sal die lig vorentoe helderder skyn.


Daar is ook vrees onder beleggers wat na die langtermyn grafiek van die S&P 500 kyk en sien dat die patroon wat sedert 2000 gevorm het al te veel na 'n trippeltop formasie lyk en dit herroep die 2008 daling. 'n Grafiek alleen kan nie met sekerheid aandui dat daar 'n skerp daling gaan kom nie. Om skerp ( 25% of meer) te daal, moet die indeks dan, nou, by 'n hoogtepunt wees, en wat sou so 'n hoogtepunt aandui? Uitbundige optimisme vir verdere stygings is gewoonlik 'n aanduiding.

Ek neem eerder pessimisme waar. Twyfel of Europa sy pad deur al die skuld probleme sal vind. Amerika se kommer oor werkloosheid en die 'fiskale afgrond' waarop 'n antwoord gevind moet word. Sjiena, lees ek, het hope steenkool en ystererts wat nie verbruik word nie en 'hope' leë woonstelgeboue, om van die skuld by banke nie te praat nie.

So uitsigloos gaan dit, dat sentrale banke al begin optree het om verligting te bring. Lyk dit nie miskien asof ons nader aan 'n bodem is, as aan 'n 'top' nie. En, sou die indekse hierdie kwartaal daal, gaan ek dit vreesloos beskou as bloot 'n daling wat in die vierde kwartaal deur stygings gevolg gaan word.

Hier is my grafiek van die DOW met weeklikse kerse en die 'wig' wat gevorm het. Die wig dui op 'n  moontlike daling van ongeveer 10%. Dis ook moontlik dat 'goeie' nuus hierdie indeks kan laat styg en die kanaal volg wat deur die stippellyne aangedui word.


'n Soortgelyke 'wig' kan in die JSE alle aandele indeks gesien word. Styg hierdie indeks bo 36,900 beteken dit die skerper stygende stippellyn aangeduide kanaal word gevolg en 'n daling onder 34,800, sal beteken dat die vlakker kanaal gevolg word.


Die Verswakkende Rand

Die Rand het hierdie week vinnig verswak, met 5.23% teenoor die dollar, 5.53% teenoor die pond en 7.02% teenoor die euro. Sedert Januarie 2011 het die Rand met 35% teenoor die pond verswak. Verdere verswakking, tot R15 en dan R17 vir 'n pond is die vooruitsig.


Die goudprys, in Rand, het die verswakkende Rand verbygesteek en hierdie week met 6.18% gestyg. Newgold was die agterhoede en het hierdie week net met 3.6% gestyg. Hier het ek die prys van goud, in Rand en die dollar/Rand saamgesit.


Die platinaprys het ook verder gestyg en die gaping met die platina aandele vergroot. Hierdie gaping sal vroeër of later krimp, en die waarskynlikse is dat platina aandeelpryse sal styg. My grafiek van Anglo American Platinum en platina:


Miskien, miskien is hierdie Oktober die 'mooiste, mooiste' maand.

Tuesday 25 September 2012

Week van 21 September 2012

Die Rede vir Ekonomiese Stimulering

Om die rede vir ekonomiese stimulering uit die oog te verloor is om toe te gee aan selfmisleiding. Vele stimulerings programme is al sedert die finansiële inkrimping in 2008 in werking gestel; tot nog toe, nie genoeg nie. Die Bank van Japan het hierdie week aangekondig dat hul bateaankope program met nog ¥10 triljoen verhoog gaan word tot ¥80 trijloen. Amerika, Europa, Britanje, Switserland, Japan en Sjiena se pogings om wêreldwye resessie af te weer moet vroeër of later 'n resultaat lewer. Almal woeker om 'n ekonomiese droogte te verhoed deur bietjie nat te lei.

Die Reaksie van Grondstowwe

Na die Amerikaners se stimilusprogram aankondiging het die JSE finansiële en industriële indekse teruggesak en die hulpbronindeks het uitbundig gestyg. Hierdie week was daar 'n ommekeer; die hulpbronindeks het teruggesak (-3.66%) en die finansiële indeks het sy vroeëre stygende tendens voortgesit (+1.47%). Daar's nog net beloftes van beter vooruitsigte vir grondstowwe en verdere dalings moet verwag word.


Omdat Sjienese verbruik van grondstowwe as die stimilus vir stygende grondstofpryse gesien word, is dit nodig om na die Shangaise Saamgestelde Indeks te bekyk. Die indeks styg uit die dalende kanaal (op my grafiek met 'n stippellyn aangedui), na die aankondiging van infrastruktuurprojekte in Sjiena, maar draai terug en daal Donderdag om 'n nuwe laagtepunt, 2024, te maak. Sedert die hoogtepunt van die indeks in Maart hierdie jaar, 'n daling van -17.72%. Die jaar tot dusver, sedert die opening, 2119, in Januarie, tot 21 September 2012 se sluiting, 2026, het die indeks gedaal met -4.38%. Gemeet teen die S&P, FTSE 100, CAC 40, Hang Seng, Nikkei 225, BSE Sensex,  en  JSE Alsi, toon slegs die Shangaise indeks 'n daling vir 2012 tot dusver.


Aluminium het hierdie week met -3.84% gedaal en koper tree -1.41%  terug. Opvallend was die styging van 9.09% in die prys van staal stawe op die LME.


 Van die hoogtepunt, 700, in Augustus 2011 tot die laagtepunt, 316, op 13 September 2012 was 'n daling van 54%. 'n Styging bo 370 sal aandui dat dit met staalvervaardiging beter gaan.

Die Prys van Olie

Maandag het olie met 3% gedaal en dalings is die res van die week voortgesit en Brent sluit vrydag 4.44% laer. Spekulasie oor wat die daling veroorsaak het was volop: 'n 'foutiewe' rekenaar inskrywing, die Saudies wat meer olie gaan pomp, Amerika wat reserwe olievoorrade vrygestel het (dit is ontken) ens. Dit was seker bloot net iemand wat verkoop het nadat hy die kanse vir verdere stygings in die olieprys oorweeg het. Die vraag na olie hou verband met ekonomiese groei en ontwikkeling en dit was die afgelope tyd nie so positief dat daar van vreugde rondgedans is nie, in teendeel, die voorspellings bied geen inspirasie nie. Tel hierby die sukses wat behaal is om voertuig brandstof verbruik te krimp. En die vooruitsig van elektriese voertuie. Belasting op brandstof is 'n belangrike inkomste vir regerings en verminderde brandstof verbruik verminder hierdie inkomste. Die Britse regering oorweeg 'n 'pad belasting' om hierdie inkomste op dieselfde vlak te probeer hou.
Ten spyte daarvan dat 'n swakker dollar 'n hoër olieprys impliseer, dink ek dat daar goedkoper olie in die vooruitsig is.


Verwagtings vir Goud

Goud se grafiek het nou 'n 'koppie' gevorm en lyk asof 'n 'oor' gevorm gaan word. Dit beteken 'n laer prys vir 'n wyle en wanneer die prys $1,800 verbysteek, sal die stygings weer voorgesit word.
Hier is my grafiek vanaf die hoogtepunt in September 2011 to vrydag 21 September 2012.


Mag hierdie week net positewe verassing oplewer.

Monday 17 September 2012

Effekte en die Opbrengskoers

Week van 14 September 2012

Effekte en die Opbrengskoers

Verdere ondersteuning vir die Amerikaanse ekonomie het hierdie week gekom met die aankondiging dat die Federale Reserwe maandeliks $40bn se verband gesteunde effekte gaan koop. In afwagting van die aankondiging het die dollar reeds begin verswak en die DOW begin styg. Die afgelope jaar is Amerikaanse staatseffekte met geesdrif gekoop omdat geglo word dat die risiko daar minder is as met beleggings elders in die ekonomie. 'n Laer opbrengs gaan met 'n vermindering in risiko gepaard. Die opbrengskoers van 10 jaar effekte het in Julie 'n laagtepunt van 1.40% bereik en noudat geld uit staatseffekte beweeg, styg die koers en sluit Vrydag op 1.86%.


Van die geld wat uit staatseffekte beweeg gaan na die DOW. Op my grafiek het die DOW 'n onderstebo kop-en-skouer patroon gevorm wat op 'n styging na 14400 wys, natuurlik, indien daar nie iets onvoorsiens gebeur nie.


Inflasie, Goud en Platina

Inflasie verwagtinge het verhoog en vir beskerming daarteen beweeg geld na goud en ook platina. Ek het goud en platina se grafieke vanaf Augustus 2009 saamgesit om vergelyking makliker te maak. Goud sluit Vrydag oop 1770, 'n styging van 10% sedert die begin van Augustus en platina sluit op 1701, 'n styging van 22% oor dieselfde tyd.


Het platina sy hupstoot sedert Augustus gekry ten spyte van die stakings, of het die stakings bygedra? Om 'n antwoord te probeer kry het ek Impala Platinum se grafiek saam met die van platina gesit en die negatiewe effek van die stakings is duidelik. Die ander platinamyne se grafieke wys dieselfde patroon.


Verswakking van die dollar beteken 'n verhoging in die pryse van grondstowwe en olie. 'n Hoë olieprys is negatief vir ekonomiese groei en sou in ag geneem gewees het met die besluit van die Federale Reserwe. Amerika het groot voorrade olie en produseer self genoeg om 'n prysstyging se negatiewe effek teen te werk. Amerika lyk gereed vir ekonomiese groei en verhoogde indiensneming.

Koper, Goud en die Opbrengskoers

Koper, aluminium, lood en niekel se pryse styg terwyl die dollar verswak. Aluminium was die voorloper met 'n styging verlede week van 9.51% en koper het die agterhoede gevorm met 'n styging van 7%. Die prys van koper word gesien as aanduier van ekonomiese aktiwiteit, maar as die prysstyging beinvloed word deur dollar beweging, sou koper hier nogtans as voorspeller optree? Goud bied beskerming teen inflasie. Hier het ek goud en koper saamgesit en beide styg sedert Augustus.



Om te sien watter een vaar die beste, koper, as voorspeller van ekonomiese aktiwiteit of goud, as beskermer teen inflasie, het ek die prys van koper deur die van goud gedeel. Die verhouding tussen koper en goud lyk so:



Vanaf Januarie 2011 tot Oktober 2011 het koper in vergelyking met goud aansienlik gedaal, toe begin styg, maar daal weer sedert Maart 2012. Optimisme ten opsigte van ekonomiese aktiwiteit lyk asof dit nou weer begin toeneem. En sou bevestig word as die opbrengskoers van staatseffekte ook verder styg.
Hier het ek die koper/goud verhouding (oranje lyn) en die 10 jaar staatseffekte opbrengskoers (blou lyn) saamgesit. 'n Stygende opbrengskoers lyn dui op inflasie en 'n stygende koper/goud lyn op verhoogde ekonomiese aktiwiteit.



Grondstowwe

Die verwagting van verhoogde ekonomiese aktiwiteit en die gepaardgaande verhoogde vraag na grondstowwe kan in die beweging van die JSE indekse gesien word. Die JSE alle aandele indeks het hierdie week met 2.25% gestyg. Die JSE hulpbronaandele indeks het uitgetroon met 'n styging van 6.63%. Dit lyk soos bevestiging van die verwagtinge van verhoogde ekonomiese aktiwiteit.


Om nou in aandele belê te wees, is om aan die 'regte' kant van die beleggingsveld te staan.